Winter... en Jy

Winter... en Jy

En so saam met Junie, kom die winter toe ook… uiteindelik.  Maar voor jy hierdie stelling mis verstaan, kom ek maak dit gou duidelik, ek is GLAD NIE ‘n wintermens nie!  Hierdie herfs baba is nie gebou vir die koue nie.  My termostaat het so rondom die ouderdom van 12jaar reeds gebreek.  En glo my, dis lastig.  Elke winter oorweeg ek een van twee benaderings:  Of die bruinbeer manier;  eet my pens trommeldik en slaap tot dit weer warm word, of die swaeltjie manier;  pak my koffertjie en trek vir drie of vier maande iewers heen waar dit warmer is.  Elke winter sover, probeer ek die baie eet en baie slaap, maar as ek wakker word is dit steeds koud en donker en weeg ek 2kg meer.  Dink die swaeltjies het ‘n beter plan beet… dalk volgende winter.

Maar dis nie net ek wat in die koue maande sukkel nie.  Daar is fisiologies dinge wat in ons liggame gebeur wanneer dit koud is, en ek gaan so paar met jou deel om jou te help om party dinge beter te verstaan, beter te hanteer en dalk met minder afskuwe na die winter te kyk (as dit enigsins moontlik is).

Die eerste (of enigste) groot voordeel wat die winter vir ons inhou, is die moontlikheid van gewigsverlies.  Jip, jy’t reg gehoor.  Ek weet dit klink heeltemal verkeerd want ek weet nie van een mens wat ooit na die winter brag met die hoeveelheid gewig wat hy of sy VERLOOR het nie.  Tog is die moontlikheid daar.  As jy bereid is om nie meer te eet as in die somer nie, en ook tevrede is daarmee om heeltyd koud te kry, sal jy in die winter ‘n paar kilo’s kan afskud, sonder enige moeite.

Omdat die temperatuur val in die winter, moet ons liggame harder werk om ons kern liggaamstemperatuur te behou.  Terwyl ‘n wortel en paar slaaiblare in die somer genoeg mag wees daarvoor, sal jou lyf in die winter moontlik vra vir kosse met betjie meer kalorieë… dus, meer hout op jou innerlike kaggel om jou van binne af warm te maak.  Wanneer jy dus nie MEER kalorieë inneem as gewoonlik nie, sal jy verseker begin gewig verloor.  Ek weet nie van jou nie, maar ek sal eerder die sop en brood, en stew en rys eet, warm word, en kom somer, dan weer werk aan daardie ekstra gewiggies, as om in hierdie volgende paar maande konstant koud en honger te wees.

Nog ietsie van die winter wat vir baie van ons ‘n genade en bedekte seën is, is die feit dat plante gewoonlik nie in die baie koue maande stuifmeel produseer, wat weer op hul beurt ons sensitiewe neuse, oë en ore kan irriteer nie.  Dalk tot ‘n mate nog by die kus omdat dit nie so snerpend koud word daar soos hier in die lieflike Vries-staat nie.  Maar hier waar alles amper dood ryp, kan ons sinusse ten minste vir ‘n paar maande bietjie rus.

Hoendervleis!!  Nou daardie is ‘n duidelike teken dat jy begin koud kry.  Dit gebeur wanneer die klein spiertjies wat vas is aan elke haarskag, saamtrek.  Dit veroorsaak dat die hare rys.  Ongelukkig help dit nie juis om ons warmer te laat kry nie, omdat (meeste van) ons nie ‘n dik pels het nie.  By diere gebeur dieselfde reaksie, dis hoekom Wagter of Kieter-kat se  lyfies so dik en fluffy lyk as hul buite in die koue is.  Maar met hulle dik pelse help hierdie hare wat regopstaan met isolasie wat hulle dus laat warmer kry (skielik wens ek ek was ‘n kat…)

En dan, die interressantste brokkie rondom ons lywe en die koue vir MY, is die volgende.  Al ooit gewonder hoekom jy in die winter voel of jy konstant ‘n ‘hasie in die blasie’ het?  Wel, daar is sowaar as vet ‘n verduideliking daarvoor!  Wanneer jy koud kry, verminder jou liggaam bloedsirkulasie na jou ledemate en jou veloppervlak.  Dit beteken, daar is ‘n groter volume bloed gekonsentreer in jou kern.  Dit maak dan dat die bloeddruk in jou are verhoog.  Nou jou liggaam se natuurlike reaksie is om die druk te probeer verlaag.  Jou liewe niere verlaag dan die volume sirkulerende bloed, deur water uit die bloed te onttrek en as uriene deur die blaas uit te skei.  Wat ‘n eye-opener, soos die engelsman sal sê, was dit nou nie vir my nie!  Dan kom Psalm 139:14 weer by my op… Fearfully and wonderfully made!!!

Daar is nog tonne interessanthede wat die menslike liggaam en die koue aanbetref, maar nou is my bladsy vol, so ek gaan eers hierby volstaan.  Gaan maak nou vir jou ‘n lekker warm drink ding en gaan kruip onder jou kombers in.  Maar voordat jy TE gemaklik raak… gaan maak dalk net eers jou  blaas leeg. 

Ysbeertjie-groete tot ‘n volgende keer.