Viva Sjokolade

Viva Sjokolade

My mond en vingers is oortrek in so ‘n smerige, donkerbruin affêre… en in my oë is ‘n tevrede kyk soos ‘n hond wat staar na ver-af weerlig.

Lus om te raai waarmee ek besig is?  Wel, ek is besig om ‘n GROOT dag op die kalender te vier…

Wêreld Sjokolade Dag!

Jip, jy het reg gehoor, op die 7de Julie 2021 vier ons wêreldwyd SJOKOLADE.  En ‘n soettand soos myself gaan hierdie geleentheid uitbuit, dit kan ek jou waarborg.

Meeste van julle is nou gereed om my te kruisig nê, want waar ek voorheen elke keer net gesels het oor gesonde kosse en goeie keuses ensovoorts, druk ek vandag ‘n blok donker dekadensie in my gesig.  So kom ek vertel julle ‘n paar interessante goed rondom die lieflike verleiding, en spesifiek my gunsteling, donker sjokolade.

  • Donker sjokolade is al in die rondte vir meer as 3000 jaar. 
  • Dit het begin in sentraal Amerika, meer spesifiek Mexico (waar die Kakao boom inheems is) as ‘n bitter, gefermenteerde drankie, gemaak van die kakao boon, wat gewoonlik gemeng is met wyn of speserye. 
  • Nou die Kakao boon by homself, is toentertyd beskou as baie waardevol, en daarom was dit een van die mees gesogte produkte om mee handel te dryf.
  • Kakao bevat ‘n stof genaamd Teobromien,wat ‘n ligte stimulerende en energiegewende effek het.
  • Kakao bevat ook ‘n bietjie kaffeine, wat saam met die Teobromien net genoeg is om jou so ‘n laatmiddag hupstootjie te gee (so hou maar ‘n stukkie donker sjokolade in jou laai by die werk, net vir ingeval.)
  • Nog ‘n lekker ding van donker sjokolade, is dat die kakao daarin, die produksie van endorfiene stimuleer, wat op hulle beurt jou weer ‘n gevoel gee van plesier… what a lovely piece of feel good food!!!
  • Kakao is ook propvol anti-oksidante wat jou liggaam beskerm teen die skadelike vrye radikale in en om ons.

Daar is ‘n hele storie en geskiedenis rondom sjokolade en die maak daarvan, maar ek is seker julle stel nie juis daarin belang nie, so ek gaan julle nie verveel met daardie nuttelose inligting nie.  Ek gaan eerder dit lekker prakties maak, en ‘n maklike resep deel waar jy jou eie, gesonde sjokolade kan maak en AL die bogenoemde voordele kan geniet.

Neut sjokolade

2 koppies van jou gunsteling neute

2 eetlepels coconut oil / cacao butter

3 eetlepels rou kakao poeier

2 eetlepels rou heuning

Smelt die coconut oil/cacao butter in ‘n dubbelkoker.  Maal die neute gemiddeld tot baie fyn, sommer in jou blender op gemiddelde spoed.  Sodra die neute fyn is, voeg jy die res van die bestanddele by en meng dit goed saam.  Voeg dan die mengsel in ‘n bakpan wat met waspapier uitgevoer is en sny in blokkies.  Sit dan die pan in die vrieskas vir so 30 minute om te stol.  Verwyder en breek in blokkies.  Hou in die yskas en geniet ‘n gesonde(r) lekkerny.

Onthou net, sjokolade is redelik hoog in kalorieë, en daarom moet jy maar matigheid voor oë hou as dit hierby kom.  Maar ek wil sê soos die engelsman, everything in moderation.

Ons glo mos immers aan BALANS. 

So bederf jouself gerus soms met so ‘n bietjie donker sjokolade, jy’s dit werd!

Op hierdie heerlike soet noot, gaan ek eers my vingers aflek, en dan groet. 

En soos ek graag sê:  Sjokolade is die antwoord… maak nie saak wat die vraag is nie!