Raai wat? Teen die tyd dat julle hierdie lees, sit ek heel moontlik al met my boude in die seesand! Jip, jy het reg geraai, oor 'n handjie vol dae van nou af, het ek klaar gewerk vir die jaar, dan is dit my beurt vir rus. Ek tel nou al soos 'n kleintjie die slapies af, want die vet weet, as 'n man moeg is, is jy moeg, en dan het jy 'n ordentelike breek en wegkom kansie nodig. Hierdie is voorwaar 'n seëning uit die hemel en my hele wese smag daarna.
So hierdie is geensins 'n leersame skrywe nie, hierdie is sommer net ek wat wil "brag" met die feit dat ek see toe gaan. Hierdie sal my eerste behoorlike ruskans wees in 'n jaar se tyd. Geen wonder my gô is uit en dit voel kort kort vir my of ek besig is om my albasters te verloor nie. Jy sien, dis nou die ding van die mensdom wat ek nie verstaan nie. As die Skepper van die heelal gereken het dat dit goed is om na ses dae se 'werk' vir een dag net niks te doen nie, hoe de joos reken ons dat ons kan werk en werk en nog bietjie werk sonder om ooit vir jouself 'n ware ruskans te gee. Ons word siek en moeg en dit voel soms of alles uitmekaar val. En dit sal, want ons is ongehoorsaam. Die Here het gesê dat ons ses dae moet werk en die sewende dag moet rus, maak nou nie saak of dit Saterdag, Sondag of enige ander dag van die week is nie. Sabbat - rusdag - niksdoen. Maar nee, ons reken mos dat ons hasie-battery die ding sal doen. Toe nou nie.
Elkeen van ons het ons eie redes, of verskonings, hoekom ons nie kans kry vir rus nie. Ek is self skuldig. My probleem is, ek sê moeilik 'nee'. As die werk vra, sê ek JA, as my familie vra, sê ek JA, as my vriende vra, sê ek JA... en my hondjie hoef nie te vra nie, want vir hom is dit ALTYD JA. Dis goed en edel, maar dit eis sy pond vleis. Hierdie mag baie selfsugtig klink, maar ons moet begin om eerste na onsself om te sien, seker te maak ons is sterk, gesond, uitgerus en in 'n goeie kondisie. Sodoende kan ons werklik iets werd wees vir die mense rondom ons.
En dis wat ek van plan is om te doen. Genoeg varslug, genoeg sonlig, genoeg oefening, genoeg slaap, dalk 'n "soft serve" roomys of twee, lekker lag en kaalvoet loop. Wanneer ek dan so na die spore kyk wat ek agterlaat in die sand, en dink aan die jaar wat verby is, hoe my Hemelse Vader my gedra het en hoe Sy seëninge in my lewe so ontelbaar is soos die sand aan die see; wil ek dankbaar Sy grootheid besing terwyl ek die skoon lug diep in my longe intrek en luid uitasem.
As jy nie so bevoorreg is om nou weg te gaan nie, belowe my jy sal iewers 'n tydjie maak om ook kaalvoet te loop, ook 'n roomys te eet en 'n sonsak te geniet, al is dit van jou agterstoep af. Jy moet dalk ook leer, soos ek, om bietjie NEE te sê. As jy eerder op jou bank wil lê en boeklees as om te gaan braai saam met die familie, sê dan NEE, en lees jou boek. As jou vriendin jou vra om saam met haar te gaan inkopies doen terwyl jy eerder na 'n kook program op die tv wil kyk, sê dan NEE, en gaan kyk jou program. Ons mag. Die wêreld wil vir jou sê jy's selfsugtig, ek sê vir jou, dit is reg so. Soms moet ons bietjie selfsugtig wees om seker te maak ons is ook okay.
Onthou: "You cannot pour from an empty cup."
In hierdie tyd wens ek vir jou vrede, dis immers wat ons herdenk, die koms van die die Vredevors na hierdie vieslike, vuil en stukkende wêreld en sy mense. Om vir ons hoop te bring, om vir ons die weg te baan uit al die chaos uit.
Hiermee sluit ek af tot volgende jaar:
"The Lord bless you and keep you. The Lord make His face to shine upon you and be gracious to you. The Lord lift up His countenance upon you, and give you peace." Numbers 6:24-26