Nou ja, ek dink nie dis blote toeval dat HORMONE en DEMONE so baie dieselfde klink nie. Want kyk, dis darem nou vir jou ‘n ding wat jou kan laat les opsê, selfs in sy afwesigheid (ek verwys nou na die HORMONE).
Die dekselse goed kan maak dat jy sweet, huil, nie slaap nie, gewig optel, spiermassa verloor, mense se oë wil uitkrap, hare verloor, hare op opskure plekke kry… en so gaan die lysie aan.
Hier op 37 plus BTW, het ek my darem nog nie vasgeloop in menopouse nie, maar daardie ontmoeting is seker onvermydelik (ek sweet sommer by die gedagte daaraan). Nietemin spook en spartel elkeen van ons een of ander tyd, tot ‘n meerdere of ‘n mindere mate, tog maar met die hormone. En ek sluit die manne hierby in. Soos ek sê; het jy die goed het jy drama, het jy dit NIE het jy ander tipe drama. Maar so gedurende my twee jaar hier by Balans, het ek geleer dat daar wel oplossings, antwoorde en hulp is as dit kom by ons hormone. En die beste van alles is, dis een honderd present natuurlik, met geen newe effekte nie.
Ek is nie een wat al ooit vreeslik gesukkel het met PMS en al daai twak nie, maar ek moet bieg, my emosies is glad nie stabiel en verstaanbaar (of aanvaarbaar) daai tyd van die maand nie. Eers is ek huilerig vir geen rede nie, dan is ek kort van draad en dan sommer net misluk, ook vir geen rede nie. Maar dis gewoonlik van korte duur en dalk nou nie so erg as wat ek dit laat klink nie. Tog het ek so amper drie maande terug besluit om self een van ons produkte in die winkel te probeer, bloot omdat die dames wat dit gebruik vreeslike goeie terugvoer gee. So gesê, so gedaan. Na die eerste maand kon ek reeds agterkom dat my emoies baie meer onder beheer is en dat selfs my normale hoeveelheid pyn op dag een, ook minder is. Dit was alles vir my wonderlik, en seker nog meer vir die mense wat saam met my moet leef en werk.
Daar is pille, rome, essensiële olies en kruie wat kan help. Dit wat ek gebruik, is maar net een van ‘n paar produkte wat dieselfde tipe werk doen. NIKS van dit is fisiese hormoonvervangings nie, so dit kan nie kanker bevorder nie, dis alles net kruie en natuurlike bestanddele wat die kliere in jou liggaam stimuleer om die regte hoeveelhede van elke tipe hormoon wat nodig is, te maak. Met ander woorde, dit wat kort, word meer van gemaak en sodoende onstaan daar weer ‘n balans in jou liggaam. Dit maak dat hierdie nare simptome van jou maandelikse siklus of menopouse en selfs testesversaking by mans (wanneer ‘n man se liggaam nie meer vanself testosteroon vervaardig nie) minder raak of heeltemal weggaan. Want glo my, dinge gaan ernstig suid as daar ‘n hormoon wanbalans in ons liggame is.
Meer nog, soveel goed wat ons eet en aansmeer of spuit, lol met ons hormoonvlakke. Dink nou maar net wat gebeur met ‘n mens wat hope vleis eet wat vol hormone gespuit is. Net so krap parfume en plastiek ook ons hormone deurmekaar.
So ja, dis regtig ‘n genade en seën dat daar natuurlike produkte is wat kan help om die hormone weer te balanseer, maar dis nog beter as elkeen van ons kan begin uitvind wat die sondebokke is, en dan moeite doen om beter en gesonder keuses te maak rondom dit wat ons eet en gebruik. Dit is ‘n ‘hasie-gat’ (rabbit hole) waarin ons nie nou verder gaan afgaan nie. Maar vorentoe sal ek jou bietjie dieper vat op die uitwerking wat ons omgewing en produkte wat ons eet en gebruik, op ons het.
Ek groet en sluit af met iets wat een van my gereelde kliënte te sê gehad oor ‘n spesifieke produk:
“Meno-fast…. Hierdie goed red huwelike… en lewens!”
Tot ‘n volgende keer.