8 Maande

8 Maande

Vir die van julle wat nog nie weet nie, ek het ‘n hond.  En sy naam is Chuckie.

“Watse hond is dit?” vra jy. 

‘n REGTE hond.  My stiefpa noem daardie soort honde ‘Heinz hondjies – 57 varieties’.  Een van my kliënte noem hulle ‘designer’ hondjies, want daar is nie nog ene wat sò lyk nie.  En dis nou my Chuckie kind.  Hy was my winterbaba, en defnitief my sonstraal in ‘n andersins donker en deurmekaar jaar.  Hy is ook my heel eerste hond, so die hele ‘ouerskap’ ding is ‘n vreemde gebied vir my.  Soos enige ouer maak ek dus ook maar foutjies wat die opvoeding ensovoorts aanbetref.  Bederf die affêre tot in die afgrond in, maar raas en pakslae kry hy darem ook, veral soos vanmore toe ek weer ‘n paar skoene van my buite optel… die een skoen se agterkant vol gate gevreet.

Vandag is die mannetjie ‘n volle 8 maande oud.  En soos dit ‘n goeie ouer betaam, wil ek toe ietsie spesiaal maak vir die geleentheid.  Nou ja, as twee-voetige kinders verjaar, bak ons koek, en hoekom dan nie vir die vier-voetiges ook nie?  Ongelukkig is ek nou nie die wêreld se beste bakster nie, maar ek reken toe ‘n hond gee nie so erg om vir iets wat nie mooi gerys het of effe skeef en krom is nie.  En eintlik het ek gedink om solank te begin oefen, sodat wanneer hy ‘n jaar oud word, ek vir hom ‘n ordentelike koek kan bak.

Gewapen met ‘n baie oulike, gesonde resep wat ek op die internet gekry het, en die beste intensies onder die son, vaar ek toe gisteraand die kombuis in. 

Ek was versigtig vir ‘n groot koek en het besluit om dit in my kolwyntjie pannetjie te maak, dan het ek 12 koekies waarvan ek sommige kan vries sodat hy oor ‘n week of 2 nog verjaarsdagkoek kan geniet.

In my kombuis het dit soos ‘n wafferse bakkery geruik!  Die muffins het mooi gerys en ek kon nie anders as om een te eet nie.  Dit was so lekker dat ek net daar en dan besluit het om dieselfde resep te gebruik en vir my ook van hulle te maak.  Hoekom dan nou nie, al wat daar in is, is pampoen, applesauce, meel, eier, grondboontjiebotter, olie en koeksoda.

Die ‘verjaarsdag’ koekie moes natuurlik ‘n versiersel van soorte kry.  Daarvoor het ek toe grondboontjiebotter en van St.Dairy se natuurlike jogurt gemeng.  Baie angstig kry hy en ousus Sweetie toe elkeen ‘n cupcake.  Ek dink Sweetie het hare heel ingesluk (sy’s ‘n regte smulpaap), terwyl Chuckie heel onbeindruk was met my poging.  Hy het hom gelek, gerol in die gras en toe so stuk stuk afgewurg, of so het dit vir my gelyk.  Ek was bietjie afgehaal, want ek het my bes probeer om my hondjie te bederf.

Vir hulle laataand versnapering, besluit ek toe om vir hulle elkeen een van die winkel hondekoekies (kompleet met ietsie wat lyk soos icing op) te gee.  Ek het gereken dit gaan lekkerder wees as die verbeeldinglose en tuisgemaakte ‘pampoen-koekies’ wat ek so saam met die kolwyntjies gebak het vir treats.

Groot was my verbasing toe ek sien dat die tuisgebakte treats BAIE meer aftrek kry as die winkel nommers!  Ek moet bieg, dis baie makliker om geld uit te haal en daardie tipe goed in die winkel te koop, as om dit self te maak.  Maar indien jy dit self maak, weet jy presies wat daarin is en kan jy dit aanpas volgens jou dier se spesifieke behoeftes.

So, diere pappas en mammas… doen jou troeteldier ‘n guns en begin kyk ook na dit wat in hulle kossies en lekkernye is.  Skop maar soms daai lui skoene uit en bak self, jou vier-voet is, net soos jy, dit werd om goed en gesond te eet.

Nou ja, ek bak dalk nie besonderse verjaarsdag kolwyntjies nie, maar as ek so na my hond se ‘happy meter’ (stert) kyk wanneer ek die kas oopmaak om die bak met daai crispy pampoenkoekies uit te haal, dan maak die res nie meer saak nie.

Tot ons weer gesels.  Wees lief vir jou diere.

Ek gaan nou tee maak… en ‘verjaarsdagkoek’ eet!